As administrateur van ‘n besigheid se webtuiste, word mens dikwels gekonfronteer met skrikwekkende opmerkings. Dinge wat jy moet uitvee en aan beweeg. Saans drink mens dan maar iets alkoholies en vergeet daarvan. As jy egter per breek is van die dinge onder die prop, wel…
Beste Roelf*. Nie sedert ‘n stuk papier wat deur Neville Chamberlain rondgewaai is na hy van die vliegtuig geklim het, het iets so min gravitas vir enigiets ondermaans gedra, soos jou opinie hier nie. Gedurende jou nuttelose bestaan moes jou laaste werkende harsings êrens verdwaal het, soos ‘n Theseus in ‘n Minoaanse labirint wat sy garing verloor het… en demensie het. ‘n Ertjie sal jou in ‘n debatskompetisie ore aansit. Ek wil hê jy moet onmiddellik vir jou ‘n paar oranje Crocs by die welsyn gaan soek, sodat alle vroulike soogdiere ‘n onmiddellike afstoot in jou kan onwikkel. Want ek wil nie hê jy moet aanteel nie Roelf. Nooit nie. Ek weet nie of interspesie ramapanga enigsins gene kan oordra nie, maar kom ons vat nie daai kans nie. Daar is te veel op die spel. 
As ‘n reusagtige, radioaktiewe asteroïede die aarde tref en jy, die enigste man wat oorbly omring deur beeldskone vroue met vyf kolossale borste elk, wil ek hê jy moet in die naaste vulkaan gaan spring, eerder as om enige oorblywende lewe in ‘n post apokaliptiese aarde te besmet met jou kankeragtige wese. Sal die mensdom uitsterf? Miskien. Sal die aarde lank daarna uitsluitlik bewoon word deur reuse kokkerotte en semi-intelligente ape wat slegs kan kommunikeer deur middel van vingertaal? Ek weet nie Roelf. Ek is nie ‘n antropoloog nie. Ek gee ook nie om nie. Solank jou nageslag nie die aarde besoedel met die tipe egosentriese, kranksinnige idiosie waarmee jy deurdrenk is nie. Het jy al Harry Potter gekyk? Onthou jy daardie skrikwekkende swart goed wat by die towenaartronk werk en in swart trosse die lug rondsweef soos ‘n swerm knoffel poepe? Daai goed wat die geluk uit alles en almal suig. Verstommend hoe hulle jou karakter perfek vasvang. Het jy al agter gekom dat plante vrek oral waar jy waggel Roelf? Alle grappies op ’n stokkie; ek sal persoonlik betaal vir jou vasektomie. Vanaand sal die eerste keer wees wat ek wakker gaan lê, uit rou bekommernis oor ‘n ander man se baaikostuum area. Mag jy ewig vervloek wees daarvoor. Weet jy Roelf, ek het verlede jaar ‘n gebreklike koedoe gesien. Die arme ding se horing het verkeerde kant toe gekrul en reguit deur sy oog, tot in sy brein gegroei. Die beperkte intellektuele kapasiteit waarmee jy opgesaal is, top dít as die wreedste natuurfrats wat ek nog ooit beleef het. Ons moes daardie koedoe uitsit Roelf. Die DBV hier in Rietfontein behandel sulke dinge met groot deernis… net ‘n obiter dictum. Ek verstaan werklik nie hoe oorleef jy sonder oorfone en ‘n opname wat konstant sê: “asem in, asem uit” nie. Jy kan daarop trots wees, dit is uiters indrukwekkend. Ek gaan nou oop kaarte met jou speel Roelf, ek het nie tans genoeg beskikbare fondse om jou pype van massaverdrietiging te laat afbind nie. Maar ek gaan dit probeer crowdfund. Ek hoor van al meer mense wat sukses daarmee behaal. As die mensdom moet hoor van die geringe kans dat die antieke Maja profesie van smart dalk voltrek mag word en ons almal moontlik sal moet ly onder die angswekkende gediertes uit jou skoot, samel ek biljoene in. Tot dan, asseblief Roelf, sluit jouself so deeglik in jou krot toe, soos die bang adolessente in jou kelder. Drink al die rietspiritus in jou kas, probeer die Castrol onder jou naels uitkrap, stop die gate in jou onderbroeke, eksperimenteer met ‘n biltongkerwer… enigiets behalwe voortplant.
*nom de guerre

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui