Die Kapitalis se Kleed

Jagters gee mekaar gereeld gas oor die kamoefleerdrag wat hulle medejagters dra. Die ouens wat die bloues dra lyk blykbaar soos daai groot Smurfs in die film Avatar. Die manne wat die huidige weermag se klere dra word verdink van sinister bande met Mkhonto Wesizwe en mens moet elke nou en dan vir die manne met die boogjag klere skrik omdat “jy hom nie daar gesien staan het nie”. Daar word ook beweer dat die tipiese Suid-Afrikaanse jagter homself met koedoe piepie besprinkel en ’n vol ghillie suit aantrek om ’n Steenbok op 80 meter van ’n bakkie te gaan skiet.
By die kamoefleerdrag-debat gaan ek myself nie betrek nie. Jagters is gevaarlik en ek is lief vir een en elkeen van hulle. Ek wil wel praat oor die T-hemde waarmee die jeug van Suid-Afrika hul beklee. As iemand ‘n T-hemp dra met ’n sekere slagspreuk/simbool daarop gedruk glo daardie persoon (volgens my) daarin, asook aan die konnotasies wat daaraan geheg word. Waarom sal hy dan nou anders so ’n slagspreuk/simbool met trots op sy bors dra?
Die eerste T-hemp wat my dwars in die krop steek se gedrukte woorde ondersteun ek. Dis die man agter die handelsmerk wat my omkrap. Die persoon het ’n hele generasie (per video) verontskuldig vir ’n stelsel waarmee hulle net mooi niks te doen gehad het nie en ook duidelik geen voordeel uit trek nie. Maar tog koop die mammies en pappies die T-hemde vir hulle telge sonder om daaroor te dink. Hulle glo die sêding is so mooi, dat daar tog niks anders as rein gedagtes daaragter kan skuil nie. Ek gaan nie die handelsmerk noem nie, omdat ek weier om hier publisiteit daaraan te gee.
Die tweede T-hemp is meer bekend. Die prent voorop gedruk is díe van ’n man met deurmekaar hare en ’n beret op die kop. Die kommunistiese ster pryk voor op die beret. Dit is die gesig van Che Guevara.
Kom ons loer bietjie wie ons jeug teen hulle bors dra;
Ernesto “Che” Guevara is gebore op 14 Mei 1928. En sal die kuber-krygers net so effens wag voor hulle my met hulle digitale spiese deurboor oor ’n feitefout… Die datum op sy geboortesertifikaat is verander (van Mei tot Junie) sodat mense nie sou agterkom dat sy ouers siesa gemaak het voor die huwelik nie.
Hy het in 1948 medies gaan swot by die Universiteit van Buenos Aries. Hy het graag getoer en in Argentinië het die skrikwekkende armoede van die Latyns-Amerikaanse kleinboere hom diep geraak. Hy het die blaam van hierdie armoede en die toestande waarin armes geleef het op Imperialisme en Kapitalisme geplaas. Klink dit nie baie soos ’n ander man wat ook graag beret dra in Suid-Afrika nie? Maar julle dra nie sy T-hemde nie…
Nee kyk, onkunde is ’n bliksem! Maar ek dwaal af.
Hy het later betrokke geraak by Fidel Castro se revolusionêre planne vir Kuba. Na die Kommunistiese revolusie geslaag het, was Che die hoof van die INRA wat hulle toegespits het om landbougrond te herverdeel aan die mense wat op die plase gewerk het, koöperasies en die staat.
Castro het ook Guevara as hoof van die la Cabaña tronk aangestel, waar nagenoeg 2000 vyande (beide van die staat en persoonlik), spioene en drosters tereggestel is. Baie van hulle is deur Che self om die lewe gebring. Hy is as gevolg hiervan “The Butcher of la Cabaña” gedoop. Iets wat min mense weet is dat Guevara ’n groot rol gespeel het in die aksies wat gelei het tot die 1962 Kubaanse Missiel Krisis en ’n potensiële derde wêreldoorlog.
Che Guevara het hom beywer daarvoor dat individualiteit moes verdwyn en dat mense min of geen persoonlike vryheid en regte mag hê. Hy sê by geleentheid: “The youth must refrain from ungrateful questioning of government mandates”. Hy gaan aan om te sê: “Youth must think as a mass”.
Die lefties wat Guevara sien as ’n simbool van vryheid is totaal oningelig. In die sestigs is jong mense wat hulle skuldig gemaak het aan die strafbare oortreding van ‘die luister na rock of jazzmusiek’ deur die geheime polisie uit parke gesleep en in werkskampe aangehou. Interessant dat dieselfde mense wat ’n voorliefde het vir die Che Guevara handelsmerk, die volgende dag graag hulle Ramones T-hemde dra. Ai.
In ’n mate verstaan ek dat ou Kubane hom steeds as ’n held sien, Kuba onder Fulgencio Batista was ’n nare plek. Maar Suid-Afrikaanse tieners? Not ’n tiekie!
As jy nie ’n suiwer Marxis is wat onomwonde glo in ’n Marxistiese stelsel nie, moet jy nie so ’n hemp dra nie. Kom by en lees ’n boek!
As jy die T-hemp dra omdat jy eerder wil onthou dat Che Guevara ongeletterdheid in Kuba verlaag het en ’n groot aandeel in die skep van oop universiteite vir alle Kubaanse burgers gehad het, mooi hoor. Jy is meer ingelig as 99% van die wêreld se bevolking.
Jy is ongelukkig dan ook waarskynlik die tipe mens wat Jan Smuts se heldedade in die Boereoorlog gebruik, om die feit dat hy sy eie volksgenote onnodig laat teregstel het, te verbloem. Ek verstaan dat ’n mens nie opgesom kan word NET aan die hand van sy heldedade, of NET aan die hand van sy gruweldade nie. Maar magtig, party aksies weeg darem bietjie swaarder as ander.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui