Die Kuns van Kultuur

Ek het die laaste twee dae, in Londen en Parys, wonderlike kunswerke gesien. Van die bekende werke waaroor mense met Burberry serpe om die nek en bonsai frikkadel sosaties in die hand, by liefdadigheid funksies peins. Tot skilders waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek is amper skaam om te sê dat dit die heel eerste keer is dat ek van Luca Giordano (1634-1705) hoor. Daar hang ‘n reuse skildery wat hy geskilder het in die National Gallery in Londen (as julle gou wil loer, Google: ‘giordano perseus painting’). Die skildery handel oor Ovid se verhaal van Perseus se troue met Andromeda. Kortliks het ‘n baie suur Phineas en sy dronkgat pelle by die bruilof ingebars en moeilikheid begin maak. Perseus was ook nie links nie en het medusa se kop uit sy toksak geruk, begin rondswaai en die hele spul balsturige buffels in klip standbeelde verander. Waarom Perseus, Medusa se kop as ‘n sleutelhouer rondgedra het, sal ek nou nie vir julle kan sê nie. Ek moet ook darem noem dat ek die bogenoemde verhaal effens aangepas het, sodat dit sal aanklank vind by die demografie waarvoor hierdie rubriek geskryf word.

Die skildery was so aangrypend dat ek ‘n ruk moes gaan sit. Die detail was regtig asemrowend. Op een van die manne se been, kan mens sien hoe die kleur van sy brandewyn-tan geleidelik vergrys soos hy in ‘n pilaar verander.

Dis ongelooflik om te dink wat hierdie kunswerke alles oorleef het. Een skildery wat in die National Gallery in Londen hang, deur Giovanni de Rimini, is rondom 1300 geskilder. Dit het dus, waar dit ook al in Europa was, die Oorlog van die Rose, die Schmalkaldic oorloë, die Spaanse én Nederlandse oorloë van geloof, die 30 jaar oorlog, die Engelse burgeroorlog en Louis XIV se Nederlandse oorloë oorleef. Alles voor Jan van Riebeeck, Clifton se strande gewaar het. Dan was daar nóg 14 groot konflikte voor die eerste en tweede wêreldoorloë. Dit het die skildery óók oorleef. Nou kyk… die verfkwas is miskien gevaarliker as die swaard, maar ‘n Buzzbomb verteer ‘n skildery soos ‘n vet kind Fizzers vreet.

Selfs die Mona Lisa, was op ‘n stadium inderhaas agter in ‘n ambulans uit die Louvre gered. Die skep van kuns en die bewaring daarvan is vir my essensieel vir die behoud en rekordhouding van ‘n volk. Of dit ‘n skildery, beeldhouwerk of letterkuns is, dit vertel ‘n storie oor die zeitgeist waarin dit geskep is.

Die meer oplettende leser sal seker agterkom dat hom/haar opbotter vir iets. En ek doen. Want ek gaan nou, dames en here, gaan ek dig op ‘n baard-olie webblad:

Verlore Begeerte
Sleep jou sarkofaag tot in die son. Dat jou hartseer lappe bros kan brand.
Skud af jou kokon en vou jou vlerke om.
Want hier flikker hoop in die donkerste steeg, al is jou hiërogliewe swart en jou skatkamer leeg.
Stop toe waar winde woestyn by jou krake inwaai en hopies uurglas sand hier en daar laat staan.
Dans en sing oor hersenskim en jaag die doesel weg.
Vee skoon tot kalksteen seepglad staan, gereed vir die nuwe naakte maan.
Omsoom jou skroom met hakiesdraad van bos en skemeruur.
Maar gaan soek die son en skryf en dig en sny jou taal se spoor.
Mag lenteplaag en hinderlaag en praalsug jou vermy.
Mag ‘n engel met ‘n gawe hart sy pad na jou toe kry.
Wys die vrug uit jou skoot om die smal pad te loop. Jou kompas teen haar bors.
Laat psalms deur haar jare rank en van haar lippe tot haar hart weerklank.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui