Waarom: Feite Wen?

Ek het vir my aan die begin van hierdie jaar ‘n T-hemp laat druk met die woorde “Feite Wen” voor en “Feite voel ‘n veer vir jou gevoelens” agter. Die aanhaling agter is skaamteloos van Ben Shapiro gesteel, maar die voorste stelling is my eie.

Reg oor die wêreld word feite met mening verguis en dit wil vir my voorkom of hierdie eerder die zeitgeist geword het as ‘n uitsondering. Laat ek my hipotese verduidelik:

Ons storie begin in Europa – ‘n voormalige wieg van kuns, kultuur en christelike waardes. Hier is onlangs ‘n ooreenkoms voorgestel deur die noordelike draak met die gesplete hoef, ook bekend as die VN; Die ooreenkoms heet The Global Compact for Migration. Die ooreenkoms sal vandeesmaand in Marrakesh onderteken word en lede van die Europese Unie sal onderneem om (onder ‘n magdom ander stipulasies) seker te maak dat dit maklik is vir immigrante om al die voorregte te geniet as die burgers van die land wat belasting betaal. Dit stel verder voor dat befondsing aan enige media-instellings wat hulle uitspreek teen immigrasie dadelik gestaak word. Die VN is dus nie baie vriendelik met mense wat hulle voorstelle bevraagteken nie. Die Europese kommissaris bemoei met ekonomiese en finansiële aangeleenthede, Pierre Moscovici, het byvoorbeeld onlangs gesê dat as lande “national preference” voorstaan in die opkomende Europese parlementêre verkiesings (dws na hulle eie belange omsien), “oorlog na Europa kan kom”. Ek glo darem nie dit was ‘n dreigement dat die VN sulke lande sal aanval nie (wie weet), maar eerder ‘n waarskuwing dat die lande wat nasionalisties optree so diep in die immigrasie-sop is, dat hulle ‘n tipe burgeroorlog binne hulle grense kan verwag.

Die VSA, Oostenryk, Bulgarye, Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Kroasië het reeds aangedui dat hulle, hulself van die ooreenkoms onttrek. Hierdie lande se besluit om nie deel te neem aan die ooreenkoms nie, het verskeie invloedryke lede van die internasionale gemeenskap genoop om die leiers soos Victor Orban (Hongarye) as ‘n Nazi en “alt-right” demagoog uit te kryt. Die feite is egter dat niemand wat hierdie ooreenkoms (wat sekerlik later ‘n amptelike resolusie sal word) opgestel het, die menings van die wettige burgers in EU lande in ag geneem het nie. Ten spyte daarvan dat 78% van laasgenoemde eerder strenger beheer by hulle eksterne grense wil hê. Verder is die meeste immigrante nie vlugtelinge nie, maar swerwers wat van land tot land welsyn-winskopies soek. ‘n Perfekte bewys hiervan is die krisis in Swede, wat nou die verkragting-hoofstad van Europa genoem word – volgens my ‘n direkte gevolg van hulle idiotiese immigrasiebeleid.

Daar is ook geen stipulasies in die Global Compact for Migration vervat wat planne uiteensit vir die befondsing van die biljoene Euro wat dit sal kos om na hierdie immigrante se welstand om te sien nie. Die feit is dat Europa nie die weduwee se kruik is nie. Een of ander tyd gaan die geld opraak. En dan is almal nou lekker gelyk. Almal kak dan lekker armlastig saam af. Die hongersnood en die stank van die lyke op straat sal die bewys wees dat niemand se gevoelens seergemaak is nie. Om ‘n fel kritikus teen onbeperkte immigrasie aan te haal: “Lande wat die derde wêreld invoer, sal die derde wêreld word.”

Aan die linkerkant van die Atlantiese oseaan vind ons die verfoeilike feit-hater Alexandria Ocasio-Cortez wat haarself as ‘n “socialist democrat” sien (welkom by Amerika se koue burgeroorlog). Dit is absoluut fassinerend dat haar angswekkende menings oor die monetêre beleid van die VSA deur grootmense as gesonde stimulus in die kongres gesien word. Sy het onlangs beweer dat biljoene (trillions in Amerikaanse Engels) van die Pentagon se transaksies nie nagespoor kon word nie. Dit is toe nou nie ‘n feit nie. Die feite is dat die VSA se departement van verdediging nie eers soveel biljoen spandeer het oor die 70 jaar wat dit bestaan nie. Hierdie vrou is teen alles wat as fascisme gesien kan word, omdat sy bang is dat so ‘n stelsel mense van vryhede sal ontneem – wel, in haar kop gebeur dit tans in die VSA. ‘n Kapitalistiese stelsel is egter die uitoefen van vrywillige aksies en dus presies die teenoorgestelde van wat haar oë so laat uitpeul van woede. Sy is die perfekte voorbeeld van Linkses wat weier om uit die feite van die verlede te leer. Sosialistiese denkwyses eindig nooit goed nie. Die feit is dat ons nie almal gelyk kan wees nie (mense verskil), al laat dit ons ongemaklik voel. Dis nou weereens in Venezuela bewys.
Bietjie hoër op in die VSA se leierskorps was Donald Trump se onttrekking uit die Parys klimaatooreenkoms en die Iranse kernooreenkoms volgens my ‘n briljante besluit. Ek is GLAD NIE Trumpie se grootste ondersteuner as persoon nie, maar met die grootste deel van sy beleid is daar min fout. Albei bovermelde ooreenkomste klink fantasties in teorie. Die feite is egter dat die gevolge daarvan ‘n ramp vir die VSA sou wees. CNN se ligte het Obama seker maar verblind toe hy die dokumente onderteken het. Of het die gees van Neville Chamberlain hom dalk vlugtig beset?

Maar genoeg oor die politiek in die VSA. Kom ons beweeg aan tot die morele ineenstorting wat die miskenning van feite onder die Colgate vlag tot gevolg gehad het, vergestalt deur radikale lede van die LGBTQQIAAP gemeenskap (nee ek is ernstig – gaan Google dit). Hierdie bende beweer nou dat daar tot 58 geslagte is. Die feit dat daar net twee is, maak hulle gevoelens seer. Hulle het ook onlangs besluit dat mens die woord woman eerder womxn moet skryf, omdat die woord man nie daarin mag wees nie en dit hulle mag noop om in ‘n “safe space” by Maties te gaan huil met ‘n geslag-neutrale Teddybeer in hulle arms. O gits, nee wag, Teddy is ook ‘n man se naam. ‘n Man wat boonop gejag het. En bere is ook mense. Solank hulle nie Republikeinse bere is nie.
Dis vir my eintlik wonderlik dat hierdie mense enigsins kan kommunikeer sonder om elke twee sekondes ‘n aanstoot-aanval te kry, daar is soveel reëls…

Bogenoemde is dinge wat mens nog kan aflag as pure onsin, maar dit raak meer sinister; Op 14 November het een van my gunsteling reg(s)denkende publikasies, Louder with Crowder ‘n storie gedoen oor hoe die Linkses in die VSA, seksualiteit op kinders afdwing. Hulle het ‘n insetsel gedoen oor “drag-kids”. Een van die kinders was Nemis, ‘n 8 jarige seuntjie wat homself sien as Lactacia – ‘n transvestiet. Nemis neem dan ook deel aan parades wat hierdie tipe gedrag lof toesing. Sy ouers is natuurlik vreeslik trots en dink veral hy is braaf as hy sy ballon vashou waarop “eat a dick” staan. Ek weet hierdie klink vergesog, maar gaan kyk gerus die episode. Sit net voor jy begin.

As boetie met ‘n rok en hoë haak skoene deur die sitkamer gehardloop kom as dominee kuier, sal normale ouers effens bloos, lag en hom reghelp omdat Nemis ‘n seuntjie is – dis ‘n feit. Die morele kompas van Nemis se ouers is egter so verdraai deur hulle strewe om verdraagsaam voor te kom, dat hulle vir boetie grimering gegee het en ingeskryf het vir ‘n kompetisie, waar die pedofiele in ‘n ry by die deur uit staan om te loer. Walglik!
Hier op eie bodem glo Linkses dat hul deur hul eie dweepsug een of ander verborge morele wysheid bekom het en dus verhewe is bo konserwatiewe mense wat dink dat hiërargiese strukture binne die ekonomie natuurlik is, wette deur godsdiens geïnspireer moet word en dat feite, gevoelens troef.
Hulle kom dus daarmee weg as hulle byvoorbeeld sê dat Winnie Mandela se sondes geen erger was as Koning Dawid van die Bybel s’n nie – sy was maar ‘n produk van haar tyd. Iemand soos Eugene Tereblanche word egter nie oor daardie selfde, gerieflike, kam geskeer nie. Hy is volgens hulle nie ‘n produk van sy tyd gewees nie, maar die duiwel homself wat vlugtig aarde toe gekom het om almal se gevoelens seer te maak.

Dieselfde mense sal ‘n foto van ‘n swart man wat agter op ‘n bakkie ry Twiet. “Die wit man wat alleen voor in die bakkie ry MOET ‘n pion van die donker prins wees! Hoe durf hy!” skree hulle onder hulle geweefde mussies uit. Geen energie word verspil om te dink of die man agterop dalk iets vashou of enige van ‘n duisend ander potensiële feite nie. Liefde wen blykbaar… dan ook maar net soms.

Net voor daar beweer word my hart drup van haat en gal: Ek dink wel liefde is baie, baie belangrik – dit staan so geskryf in die groot boek. Daar staan ook geskryf dat mens die ander wang moet draai, maar is dit altyd so in oorlog? NEE. Mens moet ‘n balans vind. Jy kan nie altyd eerste deur liefde se bril na ‘n saak kyk nie. Want liefde is blind. Veral in Suid-Afrika. Hier is liefde so blind dat dit glad nie die verkragtings, moord en martel van boere raaksien nie. As elke koerant, elke week, ‘n bylaag oor plaasmoorde publiseer en elke kunstenaar, by elke vertoning daaroor praat, sal dinge drasties verbeter. Ongelukkig is hulle te bang iemand se gevoelens kry seer. Hulle is bang iemand skinder dat hulle nie verdraagsaam of inklusief genoeg is nie. Hulle bemoei hulle eerder met die bewaring van renosters as met die bewaring van die mense wat met die renosters teel.

Selfs sommige eksotiese wildboere het nou feite ‘n mis begin gee. ‘n Ou sê my onlangs, ons moet nie bekommer nie, Ramaphosa het meer wit vriende as swartes. Ek weet nou nog nie mooi wat dit beteken nie, maar ek het ‘n vermoede. Ek wonder wanneer gaan hierdie tipe mense se oë oopgaan.
Hierdie oorlog teen feite word hoofsaaklik uit die Linkse politieke kamp gedryf en dit grief my geweldig.

Jy weet, my ma het altyd vir my gesê dat mens nie iemand sommer ‘n idioot mag noem nie. Maar as die hoeksteen van jou ideologie landsburgers is, wat in die smeltkroes van liberalisme tot ‘n geslaglose, ontwapende, homogene klodder speelklei gesmee is, waarmee ‘n heidense teratisme wat ons ‘die regering’ noem kan maak net wat hulle wil – dan ís jy ‘n donnerse idioot. Dan moet jy maar aanhou om soos ‘n hanslam wat vetgemaak word vir Kersete, agter Ramaphosa te bly aanloop tot die panga jou breinstam oopkloof.

En dít is ‘n feit