Halt, Stuit, Een Twee

As dit by politieke geselsies in Suid-Afrika kom, het die woord “regs” ’n vreeslike negatiewe konnotasie. Ek wil vandag vir julle verduidelik waar die terme links en regs in die politiek vandaan kom in die hoop dat julle mense, maar veral joernaliste, op hulle plek kan sit as hulle vir jou sê jy mag nie regs wees nie.
Die idee van links en regs het tydens die Franse revolusie ontstaan. Tydens vergaderings van die Assemblée Nationale het die ondersteuners van die monargie aan die regterkant van die president se stoel gesit en die ondersteuners van die revolusie aan sy linkerkant. Van daardie tyd tot nou het dit baie meer ingewikkeld geraak, maar die eenvoudige verduideliking is dat die linkses gewoonlik die situasie in ’n land wil verander en dat die regses gewoonlik die status quo wil handhaaf of selfs terugkeer na ’n ouer, meer konserwatiewe manier van dinge doen. Linkse partye word dus dikwels “partye van beweging” genoem en regse partye “partye van orde”.
Om bietjie meer uit te brei kan mens sê dat klassieke linkse ideale, onder andere, die volgende is:
• Liberalisme
• ’n Progressiewe benadering
• Gelykheid binne sosiale strukture
• Sosialisme
• Die skeiding van die kerk en die regering
Joel Pollak, wat teen die linkse manier van regeer is, som dit soos volg op:
“The reason for creating government in the first place, was not to provide for basic economic needs but to secure economic gains within an impartial system of justice. The left-wing world view is not only socialist but also highly paternalistic. It presumes that human beings are in fact unable to provide for themselves or even to act in common, without the power of the state to guide them. It is an authoritarian mentality masked in the guise of liberation.”
Die klassieke regse ideale daarteen is:
• Konserwatisme
• ’n Meer tradisionele benadering
• ’n Geloof dat hiërargiese strukture natuurlik en nodig is
• Kapitalisme
• Die maak van wette geïnspireer deur godsdiens
Carl Rogers, wat teen die regse manier van doen is, skryf:
“The right wing has a large proportion of authoritarian personalities. They tend to believe man is, by nature, basically evil. Surrounded as all of us are, by the bigness of impersonal forces which seem beyond our power to control, they look for the ‘enemy’, so that they can hate him. At different times in history ‘the enemy’ has been the witch, the demon, the Communist. And NOW; sex education, sensitivity training, ‘non-religious humanism’, and other current demons.
Dis maar wilde aantygings van die twee Amerikaners, maar albei geldig.
Die ingewikkelde deel van hierdie tipe klassifikasie is dat moderne politieke partye, organisasies en individue van die regse en linkse spektrums se ideale leen om hulle oortuigings uit te leef. Hulle leef dan ook nog hierdie ideale met wisselende intensiteit uit. In welke geval daar van hulle gepraat word as middel-regs, middel-links, vêrregs of vêrlinks. En as vandag die eerste keer is wat jy die term ‘vêrlinks’ hoor, gaan tik bietjie “Antifa” in op YouTube. Hou maar jou kussing styf vas – nagmerries sal volg. Dan gaan die spektrum ook nie net links en regs nie maar ook op en af tussen outoritêre en meer liberale sienings oor regeringsbeheer in beide kampe. Maar om daarin te delf het ons verseker nie genoeg tyd vandag nie.
Partye soos die Liberal Democrats in Brittanje, leen soveel van die links en regse spektrums, dat hulle nie as een van die twee geklassifiseer kan word nie.
So die klassifikasie van partye, organisasies en individue as links of regs het baie moeilik geword en gaan nog moeiliker raak. Ek voel dit bly tog van waarde om hierdie klassifikasies te behou, al is dit nou net om vooraf uit te vind watse tipe mense by jou vrou se werk-braai gaan wees.
En so kom ons aan die einde van die onpartydige natuur van hierdie toespraak.
Ek wil nou graag verduidelik waarom ek myself as middel-regs sien en ook om die enkele individue wat so effens links neig te probeer oortuig om oor te loop. Ek voel soms alleen.
My persoonlike probleem met die linkse politieke spektrum is dat hulle heel gemaklik is met die ongereguleerde toekenning van omvangryke regte aan enige landsburger wat dit wil eis. Ek glo byvoorbeeld nie daarin om aan iemand stemreg toe te staan bloot omdat hy of sy gebore is nie. Die geweldige impak wat groot groepe vensterlekkers en vetkrytvreters op die lot van ’n hele nasie kan uitoefen, is vir my absoluut skrikwekkend. Ek glo dat as ‘n regering nie korrup is nie en werklik die voorspoed van sy mense hoogag, regte verdien moet word. Dis vir my onregverdigbaar dat iemand wat byvoorbeeld skuldig bevind is aan moord en nooit weer die buitekant van ’n tronk sal sien nie, mag besluit oor wat buite daardie mure met wetsgehoorsame burgers gebeur. Ook; as belasting jou aan die lewe hou en jy dus nie belasting betaal nie, moet jou besluite oor hoe daardie belasting bestee word tog beperk word? Dis ander mense se geld. Mense wat hard daarvoor werk.
Die ander oortuiging van die linkses wat ek verpes is hierdie kranksinnige gedagte dat almal gelyk is. Daar is bitter min mense wat gelyk is. Almal wat nou na hulle asems gesnak het; kom ek verduidelik dit baie eenvoudig; waarom o waarom, is die snelweg spoedbeperking vir ’n halfblind 80 jarige tannie met ’n ’72 Nissan Laurel, dieselfde as vir ’n professionele resieskar bestuurder met ’n splinternuwe S-klas Mercedes? Maar hoe pas mens die toedeel van selektiewe regte toe? [Onthou om huil handjies te maak] …val die smullekker linkse trane op die organiese slaaiblare. Ek glo dit sal makliker wees as wat almal dink. My bestuurslisensie het prentjies agterop wat sê dat ek nie ’n trok mag bestuur nie. Dis nie omdat ek ’n slegte mens is nie. Dis omdat ek nie oor die nodige kennis van trok bestuur beskik nie.
Laastens is daar ook die paar linkse sneeuvlokkies wat deelneem aan die liedere van die Seunse Weenkoor (dankie Flip Buys). Vir hulle is enigiemand wat nie links is nie ’n rassis, geensins verdraagsaam nie en ook moontlik ’n aanhanger van Nazisme. Hulle kritiseer enigiets wat AfriForum en Solidariteit doen, terwyl hierdie beweging die rede is dat hulle steeds gemaklik leef onder ’n gulsige, magsugtige regering wat hulle dekadente leefstyl met belastinggeld finansier.
Om af te sluit wil ek julle vra om te gaan lees oor hierdie goed. Linkse boeke en regse boeke. As jy aan iemand met emosionele intelligensie en onweerlegbare feite kan verduidelik waarom jy glo wat jy glo, sal hulle respek vir jou hê, al erken hulle dit nie. Voed jouself op, doen jou navorsing en besluit SELF wie en wat jy wil ondersteun. Dis okei om links wees, dis okei om regs te wees, moet net nie ’n blerrie skaap wees nie.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui