Joan of Alldays, Help Ons!

Die wildbedryf word oorheers deur hulle wat staan en piepie. Dit weet almal. Aan die teenkant is die Groenes. Daardie bleek groepie mense wat elke jaar met vuil hare en sandale voor Huntex staan en teem oor die vergieting van onskuldige bokkie bloed. Hulle bestaan nou weer grootliks uit lede wat sit en pieps. Dit weet ons almal ook.
Maar soos in vele donker tonnels van idiosie, flikker daar tog so dan en wan ’n liggie. As jy dit nog nie afgelei het van die pienk handelsmerk op hierdie blad nie… ek praat van vroue jagters. Wat heel anders is as vrouejagters, wat my spelprogram so pas voorgestel het.
Daardie uitmuntende dames wat hulle eie vleis in die veld gaan haal. Wat weet dat die geklitste poepholvrugte wat hulle in die oggend op rogbrood eet, nie in die grys boksie op die supermark se rak groei nie, maar uit ’n dier kom met vere en bomskok oë. Hulle wat weet dat die voorreg om vleis te mag eet, nie sonder die vergieting van bloed kan plaasvind nie. En oraait is daarmee.
Ek wil vir hierdie mense van uitbors (hehehe) standbeelde bou en tydens ’n jaarlikse fees daardie standbeelde met varsgeplukte veldblomme versier. Ek wil strate na hulle vernoem en angswekkend-mooi gedigte in hulle eer pen. Want sien, hulle is dalk net die mense wat ons nodig het om die natuur uit die Groenes se kloue te red.
Nou sien ek in my geestesoog die mans se gesigsuitdrukkings wat die bogenoemde gelees het. Dis presies dieselfde uitdrukking wat meeste mans het as hulle Die Hannon Guru op Kyknet moet kyk.
Laat ek verduidelik;
Ons almal weet die Groenes is mal. Mal soos ’n sonbesies op Tik. Om my punt te illustreer wil ek ’n enkele nagevolg van die Groen plaag noem. Ek het so ’n paar jaar terug in die Kruger wildtuin gaan stap en kon met my eie oë sien wat die omvang van skade is, wat die olifante daar aangerig het. Die Groenes het mos so rukkie terug besluit dat geen olifant ooit weer aan die hand van ’n mens mag sterf nie. Die kwessie het daar in die bos vir my van verslaentheid na woede verander. Hoe durf hierdie donners dit aan ’n nasionale park doen? Weet hulle die plek is omhein? Waarom luister die bestuur van die wildtuin na hulle?
Ek is mal oor olifante. Van die liters snot in hulle magiese snuite tot die laaste haar op hulle sterte. Maar daar is te veel. Geen ander diere jag hulle nie. Klaar. Punt. Ek is ook mal oor skilpaaie, duikers, kameelperde en koedoes. Wat van hulle? Moet ons ’n hele sisteem in gevaar stel omdat daar nou en dan vog uit ’n olifant se “wyse ou oë” loop en dit soos trane lyk? Partykeer is ek so kwaad vir die Groenes dat ek my Range Rover vir ’n paar uur in die oprit laat luier. Vir absoluut geen rede nie. Ek wil op ’n vliegtuig klim, baba ysbere gaan verdrink en gletsers met ’n blaasvlam smelt. Ek wil seevoëls in olie bad en braai met buitebande.
En nou, uiteindelik dames en here, broers en susters, my punt; Vroumense hanteer sulke woede anders. Ek weet dit, omdat nog nie een van my vriende se kinders hospitaal toe was vanweë buitensporige lyfstraf praktyke aan die hand van hulle mammies nie. Nie eers toe een boetie sy sussie in die wang gesteek het met ’n vurk, is enige bloed getrek nie. Wel… nie by hom nie. Dit is juis sulke selfbeheersing wat ons jagters nodig het as ons met die Groenes (wat almal die intellektuele kapasiteit van ‘n vierjarige het) moet werk. En ek is bevrees meeste mans het dit nou maar bloot net nie. Met die uitsondering van James Kemp van die Orania stigting en Ernst Roets van AfriForum natuurlik. Hulle slaan so hard met mooi woorde dat hulle opponente vir jare daarna emosionele berading moet ontvang, maar hulle is besig om die land op ander front te red. Die res van ons mans sal eerder die “jy sal deur ‘n strooitjie eet vir ’n maand” opsie kies as ’n Groene voorstel dat alle huise uit beespoef gebou moet word en ons, ons Cruisers vir ’n Prius moet inruil. Ons het dus die sagte benadering van ons vroue jagters broodnodig.
Ek hoop van harte dat die dames wat hierdie lees, deur al die bollie wat ek hier geskryf het, ’n paar wyshede ter harte neem en ons help teen die groen gevaar. Praat met die goed. Asseblief.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui