Mamma se Marigolds

Hy het lank terug koebaai gesê vir die mense wat hy geken het. Koebaai vir die huis met die vriendelike spieëls. Die huis met die geel en rooi Marigold blommetjies langs die stoep se trappe. In elke ander spieël buite daardie huis het iemand anders na hom terug gekyk. ‘n Moeë man met haat in sy oë. Daai Marigolds het by hom gespook. Die gieter se silwer druppels wat vlugtig op die blare bly sit het. Die gieter wat op die trappie gestaan het. Die gieter wat hy moes gaan wegsit. Die gieter wat bloed op die trap gelos het.

In die aande hoor hy nog sy Mamma se suurstof masjien, haar nuwe stem. Hy ruik nog die rolstoel se kussing… daardie donnerse sakkie. Dis nie goed vir die siel om te praat en nie ‘n antwoord te kry nie. Een jaar het hy Marigolds in die gang voor in die grys woonstel gang probeer plant. Dit was die jaar voor Mamma se oë grys geword het.

Na die mense ‘n laken oor haar gesig kom trek het, het hy verlos gevoel. Skuldig. Leeg. Hy het Sunnyside hom laat kou. Toe dit hom weer uitspoeg het hy homself nie geken nie. Die klein hoekie son in die hoek van die woonstel was nie meer genoeg nie. Die man in die spieël se gesig was nou pers. Vol letsels. Klein rooi aartjies. Hy het gewonder of hy al ooit geweet het wie hy is. Hy was seer oor wat hy gedoen het in die stegies van sy Sodom. Hy het gewonder of die feit dat hy nog skuldig kon voel hom steeds mens maak. Hy het gewonder waar die jare heen is. Waar sy eerste liefde se eerste soen was. Sy kaalvoet speel sonder sorge. ‘n Magdom ervarings wat nooit gekom het nie.

Hy het die maand se huur en ‘n boks Grand-Pa’s in sy vuil groen rugsak gegooi en stasie toe gestap. Die Grand-Pa’s was al wat nog die wêreld se hoeke minder skerp kon maak. Die enigste ding wat nie sy kop deurmekaar gekrap het nie.

Toe die trein by ‘n klomp klein wit huisies met silwer hekkies stop, het hy afgeklim. Hy het skaam in die dorp se hoofstraat rondgeslenter. Hy het geweet hy stink van die stad. Hy kon dit sien in die tannies met die hoede se oë. Kinders wat agter die rokke se netjiese plooitjies inskuif.

Agter die ‘n ou kerk was ‘n slordige tuin met bosse en blomme wat seker eens netjies gelyk het. Daar het hy gaan skuil. En daar het die koster hom gekry. Iemand het so lank terug ‘n gawe hand na hom uitgesteek, dat hy skepties was oor hierdie vriendelike man met die groot hande en die groot hart.

Die koster se los werkies was onnodig. Die tipe goed wat uitgedink was vir besig hou, maar hy kon warm slaap en goed eet. Hy het selfs ‘n plek gehad om op warm dae te gaan rus – deur die draad aan die onderpunt van die dorp, was daar ‘n groot sekelbos in ‘n klofie weggesteek. Daar het hy laatmiddag gaan sit tot die sonbesies gaan inkruip het. Elke nou en dan het hy en ‘n ou koedoebul vir mekaar geloer deur die takke. Al twee nuuskierig. Hy het groot vrede gevind in die groot krulle van daardie horings…

‘n Vrede wat daardie Kerstyd gebreek was deur die geluk wat hy oral om hom gesien het. Jaloesie het aan hom geskaaf.

Oukersdag is hy is met ‘n bottel en ‘n Bybel die veld in. Het hy drie voue Grand-Pa’s in die bottel gegooi en met ‘n slinger in sy stap sitplek onder die sekelbos gaan soek.

Goed dronk êrens tussen Rigters en Rut, het hy gesien sy bos het reeds ‘n gas. Op die plek waar hy die gras al dood gesit het, het ‘n skilpad gelê. Bene in die lug. Hulpeloos en alleen. Oorgelaat aan die dood. Hy het die skilpad versigtig omgedraai en neergesit soos ‘n kosbare skat. Hy het gekyk hoe die dop langsaam weg wieg. Verstar. Asof dit sy enigste doel op aarde was om daardie kleine skilpad te red.

Maar onder daardie bos het die skilpad hóm gered. Vir die eerste keer vandat Mamma kom haal is, het hy gehuil. Hy het die Bybel en die bottel ewe styf vasgehou. Sy siel het gebloei. Hy het dinge bely, dinge wat die man in die spieël gesondig het. Sy eie sondes ook.

Toe die son sy disco-liggies die volgende oggend deur die sekelbos laat dans, het sy greep om die bottel ontspan. Die Bybel het op sy bors bly lê. Hy het besef hy was nie meer van hierdie wêreld nie. Hy was vry. Twee skeptiese engele het hom kom haal. Hulle moes hom eers gaan stort en ‘n mint gee, maar toe daai koedoebul hom kom soek was sy siel op die mooi plek.

Op Mamma se graf het die Marigolds oopgegaan. Die bye het die stuifmeel ver weg gedra na ‘n netjiese tuin langs ‘n hekkie. Waar kinders speel en lag en raas. Waar ‘n mamma haar blomme liefkoos met die silwer druppels uit haar gieter.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui