Die titel klink soos die een van ’n opstel wat ek in standerd vier moes skryf. Ek sal derhalwe my gebruiklike kinderagtigheid handhaaf.
Die term “Suid-Afrikaanse held” is iets wat my deesdae hoendervleis gee. Hoendervleis is dalk die verkeerde woord. Ek bedoel eintlik… gril. Dit is vir absoluut afstootlik dat mense, wat weerlose burgerlikes vermoor het met slagveld-toestelle, as helde voorgehou word. Ek herinner julle graag aan ’n ware Suid-Afrikaanse held wat in hierdie maand, 117 jaar terug, aan die hand van terroriste gesneuwel het.
Daniël Johannes Stephanus “Danie” Theron, is op 9 Mei 1872 te Tulbagh in die Kolonie gebore en het later as prokureur in Krugersdorp gewerk. Eintlik moet die storie net hier eindig, want enigiemand wat vir langer as ’n halfuur so naby aan die sodomitiese Johannesburg werk en nie sy eie lewe neem nie, is ’n held in my oë.
Net voor die Tweede Vryheidsoorlog, het Danie en sy groot pêl Koos Jooste (Suid-Afrika se Lance Armstrong van die dag) die Transvaalse regering gevra of hulle ‘n fietsry verkenningskorps kan stig. Danie en Koos het gemeen hulle kan eerder fietse gebruik om op die Engelse te spioeneer en boodskappe te stuur. So kon hulle vars perde gebruik om oorlog te maak en nie om allerhande niksseggende pre-sms grappe heen-en-weer te karwei nie. Generaal Piet Joubert moes die versoek goedkeur, maar het die seningrige vente een kyk gegee en net daar en dan gewonder watse tipe dagga hulle sodanig begogel, dat hulle met sulke belaglike idees vorendag kon kom.
Net vir die grap dare Joubert hulle toe dat niemand met ’n fiets, rekbare broek en ’n knop, ooit ’n man te perd oor ’n 75km rowwe terrein resies sal wen nie. Danie sê toe “Okay, hou my bier”. Hy het vir Koos terpentyn op die geroeste jasknoop gesmeer en hy’s soos ’n verkragte aap daar weg. Koos het die resies gewen en Generaal Joubert moes instem. So is die “Wielrijders Rapportgangers Korps” gestig wat later die “Theron se Verkenningskorps” (TVK) sou word. Die lede van die korps het tipies ‘n rewolwer en vêrkyker gedra. Hulle opdrag was om Britse bewegings te rapporteer en ook hulle taktieke te beloer tydens veldslae. Hulle was so effektief dat die Engelse bevelvoerder, Lord Roberts, op ’n stadium na hulle verwys het as “die stinkste drol in die Britte se drinkwater”. Wel… hy het eintlik die woorde “grootse doring” en “vlees” gebruik.
Die bekendste heldedaad van Danie Theron was in 1900 met die slag van Paardeberg. Die Britte het soos Saturnus ringe om Generaal Cronje en sy manne gesit en daar was geen kans om uit te breek nie. Generaal Christiaan de Wet stuur toe vir Danie, na Generaal Cronje met ’n boodskap. Hy wat de Wet is, sal die Engelse loopgrawe van die buite aanval terwyl Cronje dit op dieselfde punt van binne doen. Sodoende (het de Wet gereken) sou Generaal Cronje en sy manne deur die Engelse linies kon jaag. Daarna sou almal, nog daardie selfde aand, by Hoërskool Paardeberg se sokkie kon gaan tekkie squeak.
Om die bogenoemde boodskap by Generaal Cronje uit te kry was, sonder om te oordryf, moeiliker as om ’n stoet kameel deur die agterste venstertjie van die nuwe Hilux bakkie te ryg. Danie moes ongesiens tussendeur Engelse patrollies leopard crawl en op een punt nog oor die Modderrivier swem, wat op daardie stadium in vloed was. Die volgende dag is Danie weer terug deur die Engelse linies en die rivier.
Tot Danie en Genl de Wet se ergernis was Cronje te harregat om te luister en het met amper 4000 manne aan die Engelse oorgegee. Ek moet hier ook darem net opkom vir Generaal Cronje. Daar was vrouens en kinders in die laer en meeste van die perde was reeds doodgeskiet, so die sokkie was die laaste ding waaraan hulle gedink het. Van sy offisiere het ook nog beweer dat hulle so gemaklik in die loopgrawe lê, dat hulle net daar sal bly as die generaal die opdrag vir ’n aanval sou gee. Paardeberg was ’n groot terugslag maar dit het boekdele gespreek van Danie se volhardingsvermoë.
Daar is nog baie te sê oor Danie Theron, soos sy manewales by die Kliprivier-tronk, maar dit sal julle self moet gaan lees – my toegekende bladsy is ook net so groot. Hy het op 5 September 1900 gesneuwel na hy hom by Gatsrand onder die artillerievuur van ses kanonne deurgeloop het.
Generaal Christiaan de Wet sê later van Danie: “Nog mans so gelief en dapper mag daar dalk wees, maar waar sal ek weer ’n man vind waarin soveel deugde en goeie eienskappe in een persoon gekombineer is?”

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui