Om te Kan WaaiFaai

Verlede week pak ons die lang pad aan na ’n jagekspedisie. Onortodokse hoeveelhede bier, vars onderbroek, selfoon, ammunisie en man-man ’n roer. Ons het wel later gehoor dat een troep sonbrandroom ook ingepak het. Hy is later swaar gestraf.
Op die pad beleef ons ’n vreemdheid; niemand het sein nie. En ek praat nie van daai soort sein, dat mens jou gesig soos Bok van Blerk moet trek en skree: “HOOOOOOR jy my!?” nie. Ek praat van absolute radiostilte.
“Goed!” besluit ons, grondpad onder die boude en diep in die nek van die derde suurbier, dit sal lekker wees om bietjie afgesny te wees vir ’n paar dae. Maar soos die stof op die boonste lip van die bakkap dikker raak, begin die ding aan ons senuwees knaag. Een van die manne is besig om ’n huis te koop en hy is nie seker of al die dokumente aanvaar is nie. Ek en my vennoot het op die stadium ook ‘n jaarlikse promosie aan en mens weet nooit wanneer daar ’n probleem kan insluip nie.
Verder het ek die onbenydenswaardige taak om ons Facebook-blad, wat die grootste deel van ons bemarking strategie uitmaak, te monitor. Sien; ek moet vir al die tannies wat sê die restaurant se kaiings was te vetterig, die ooms wat sê die taalgebruik in ons video’s is onaanneemlik en die snotkoppe wat sê dat ons valse Afrikaners is en ons besigheid eintlik net ’n geldmaakstorie is, paai. Ek moet vir die antie sê dat ons daarna streef om haar kaiings volgende keer so droog soos haar oksels na ’n goeie skeut talcum voor te sit, vir die oom belowe om slegs die woord maaifoedie in die video’s te gebruik en die klein snotkop blok sodat hy nooit weer sy trogloditiese gal na ons kant kan spu nie.
Die probleem het veroorsaak dat ons elke dag ’n hele ent moes ry om ’n digitale stroompie te gaan soek waarlangs ons, ons besigheidslus kon blus – dankie tog vir yskoue koelbokse. Met een van ons ontdekkingsreise (sien julle wat ek daar gedoen het? ons het selfoon dekking gaan soek… julle is welkom) moes ons tot in Alldays ry waar ons per ongeluk ’n kroegkruip gepleeg het. Maar een vir die boeke. Dit het herinner aan Eitemal se Drinklied; “Nog ’n skuinse grappie, kêrels, nog ’n glasie wyn, en die gore werklikhede, sal in mis verdwyn”.
Die volgende dag was daar versigtig gejag.
Hierdie kwarantyn van die buitewêreld was vir ons bloot ’n irritasie. Iedereen het ongedeerd daarvan weggestap. Maar ek kan dink dat dit veel erger kan wees vir mense met groter maatskappye. Mens het tog werkers wat op jou staatmaak vir hulle volgende bord kos.
Ekonome reken dat Suid-Afrika se aanlyn uitgawes teen 2018, R53biljoen sal wees. As jy slegs kyk na mense wat gereeld op selfoon-platforms aanlyn aankope doen, gaan dit met ’n reuse 128% styg teen daardie tyd. Dit is ’n reuse aandeel van die mark en entrepreneurs gaan toenemend besighede stig wat grotendeels op die internet staatmaak.
Entrepreneurs wat dalk wil gaan jag.
Die punt wat ek wil maak, is dat eienaars van jagplase moet besef dat die woordjies “gratis WiFi” vir hulle, in die nabye toekoms baie meer besigheid kan beteken. Ek weet ons wil almal dink dat ons gaan jag om uit die gebruis van die stad se stres af weg te kom. Maar sonder kontak met die buitewêreld is dit al wat mens heeltyd doen – stres. Ons lewe ook nie in ’n feëverhaal waar almal drukkies op straat uitdeel en reënboë poep nie. Mens wil darem weet die mense by die huis haal nog asem voor jy die vyfde rum gooi.
Dit is tog op die ou end die kliënt se keuse of hy sy tegnologie wil afsit en in sy tas wil gaan bêre. ’n Selfoon raak dan soos die ewenaarslot op ’n Land Cruiser bakkie. Jy weet jy gaan dit nooit gebruik nie. Maar dis lekker om te weet dis daar.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui