Oor Etiek en Logiese Denke

Ek is skynbaar in die minderheid, maar ek glo voor mens ’n aksie uitvoer, jy jouself twee vrae moet vra; a) Is dit eties? en b) Is dit logies?
Kom ons maak net eers seker waaroor ons praat. My goeie vriend, die rooi HAT wat op my lessenaar lê, beskryf die woorde soos volg: Etiek: Wetenskap van die sedelike norme of wette; sedeleer. Logika: Wetenskap omtrent die dink-wette; dinkleer. Redeneerkuns.
In my eie woorde: Etiek: Die engeltjie op jou skouer wat vir jou sê om nie ’n poephol te wees nie, goeie waardes en norme te handhaaf. Logika: As jy dink voor jy doen. Verstandig optree en weet wat gevolge van jou aksies gaan wees.
Enigiemand wat beriggewing in Amerika monitor, sal saamstem dat daardie twee konsepte diep in die onderste laai van die liberale media begrawe lê. Ek praat nou van die beriggewing oor die gevaarlike leuens wat versprei was rondom die Ferguson insident en die metodes wat by UC Berkeley gebruik word, om andersdenkende sprekers soos Ben Shapiro te verhoed om ’n toespraak daar te maak.
Die waansin is egter nie beperk tot hulle nuusagentskappe nie. In April 2015 het ’n Uber drywer ’n massa skietvoorval verhoed, toe hy die aanvaller met sy eie wettige vuurwapen doodgeskiet het. In Junie 2015 het Uber (wat nie sê of dit in reaksie op daardie spesifieke insident is nie) ’n verbod geplaas op vuurwapens in al hulle voertuie. Logika het nie daardie dag gedy nie en eties was dit verseker nie.
Hierdie is ongelukkig ’n wêreldwye probleem. Na die ooste van die kaart kry ons ook die mense wat sonder om ENIGE navorsing te doen, steeds teem en skree oor Brexit. Om die etiese en logiese gevolge vir die natuurlewe en die voortbestaan van welsynstrukture in en rondom die VK te verduidelik, gaan te veel plek neem op hierdie bladsy. Ek is ook bang dat ek “from nape to chops” gesny sal word met die donserige tong van ’n tofu-etende dromsirkel spesialis… Nie regtig nie.
En nou na die suide. Ons kan sommer begin by GFSA. Dit staan vir Gun Free South Africa. Op hulle webblad pronk ’n banier wat lui: “Live Free, Go Gun Free”. Hulle verduidelik ook in groot detail wat die korrekte prosedure is om ’n vuurwapen in jou besit te laat vernietig by die SAPD (en ons weet almal wat die woord ‘vernietig deur die SAPD’ beteken). Maar hierdie is volgens my die pièce de résistance van hulle denke: “Your voice can stop a bullet”.
Watse tipe troglodiet glo dat die afname van wettige vuurwapens, ENIGSINS ’n uitwerking op ongelisensieerde wapens, die wapens waarmee misdaad gepleeg word, gaan hê? Die “vernietiging” van wapens is duidelik ’n leuen. Een wat julle agbare minister van Polisie onlangs moes toegee. So BEVORDER die instruksie om wapens by die polisie in te gee uiteindelik wapen misdade.
NRA president Wayne LaPierre het dit baie goed verwoord: “The only thing that can stop a bad guy with a gun, is a good Guy with a gun”. Ek glo ook so.
As jy soos ek dink moet jy eerder nie na GFSA se webblad gaan kyk nie. Ek is nou so wit bedonderd dat ek twee keer om die huis moes gaan stap om ’n beroerte af te weer. Hulle het selfs ’n skryfstuk met die titel; “If your partner owns a gun, you could be the next target”. Blikskottel!
Net voor my hart ontplof, wil ek tog by die punt kom wat ek eintlik wou maak. Radiostasies, regeringsorganisasies, befaamde akteurs en groot maatskappye het sedert 2010, miljoene rande ingesamel vir die beskerming van renosters in Suid-Afrika. Die beriggewing daaroor herinner sterk aan wat in die VSA aangaan. Oor daardie tyd het amper geen van die bogenoemde organisasies geld ingesamel of hulle ontsteltenis gelug oor plaasmoorde nie. Hulle ontferm hulle dus oor die renoster, maar die persoon wat die renoster geteel en laat floreer het nie. Hulle ontferm hulle oor ’n dier, in plaas van die mense wat hierdie nasie voer. Hoe eties is dit? Hoe logies?
Ek is nou al so hartseer en gatvol vir die situasie, dat ek van mening is dat hulle eerder elke liewe renoster in hierdie land kan uitmoor, as ons net die lewe van een boer kan red. Een boervrou se verkragting keer. Een oumens van martel spaar.
Wees nou maar die moer in vir my. Skryf lelike briewe oor die impak vir natuurbewaring en die ekonomie. Ek gee nie meer om nie. Ek is immuun teen Greenies se trane. Vir elke foto van ’n renoster met ’n bebloede snoet wat jy vir my stuur, kan ek jou tien terugstuur van ’n boer of boervrou wat geskiet, vermink en vir dood gelaat is in ’n plas bloed.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui