Oor sosialisme en leeus

Op 6 Augustus 2018 het die Wall Street Journal, Suid-Afrika se ekonomiese roete vergelyk met soortgelyke planne in Zimbabwe en Venezuela. Ek wonder of hierdie ‘n wekroep was vir die mense wat Ramaphosa se verkiesing tot ons nuwe diktator, vergelyk het met die ontdekking van die stoomenjin, die drukpers en braaibroodjies. Vir die regsdenkendes onder ons sal hierdie nie as wekroep dien nie, maar eerder as bevestiging van ‘n geween en gekners van tande wat vir Suid-Afrika wag. Ek glo meeste van ons weet wat in Zimbabwe gebeur het, maar ek gee graag so bietjie meer agtergrond oor Venezuela, sodat ons die Wall Street Journal se vergelyking beter kan verstaan.

Wat ons eerstens van Venezuela moet verstaan, is dat hulle oor reuse oliereserwes beskik, eens die rykste land in Suid Amerika was en tot so die 1980’s as ‘n suksesvolle demokratiese staat gesien was.

Venezuela het rondom 1999 in sosialisme verval toe Hugo Chavez oorgeneem het. Chavez het Fidel Castro as een van sy helde gesien en dan ook tipiese dinge gedoen wat Castro sou doen. Hy het, onder andere, alle handeldryf in vuurwapens en ammunisie verban, daarvan gehou om toesprake van tot 7 ure te hou en begin met ‘n grondhervorming proses. As julle onthou; Castro het dieselfde in Kuba gedoen, met Ché Guevara aan die stuur daarvan. Hugo Chavez het selfs ‘n nasionale televisieprogram begin waarin hy die ster was. ‘n Program waarop hy per geleentheid oor sy grondhervormingsprogram gesê het: “To those who own the land, this land is not yours… The land is not private, but the property of the nation” – los die Bell’s, gee daai man ‘n rooi baret…

Soos verwag word Venezuela se grondhervorming proses geken aan grootskaalse korrupsie. In die geval van ‘n spesifieke plaas, El Maizal, is ook baie openlik vertoon dat die hele proses ‘n sterk politieke tema het. Die eienaar van El Maizal het hom in 2009 tot die hof gewend na sy plaas onteien is. Die hof het teen die staat beslis, dat die onteiening onwettig was. Intussen het Nicolas Maduro bewind oorgeneem en die bevinding as “antirevolusionêr” bestempel. Kort daarna is die onteiening weer wettig verklaar – ‘n blatante bewys van inmenging deur die regering.

Van Venezuela se interessante bepalings oor landbou, sluit die regering se “een-bees-per-hektaar” reël in. Dit is gebruik om die doeltreffendheid van grondgebruik te bepaal. Boere met minder is een bees per hektaar, was aangemoedig om hulle kudde te vergroot of hulle grond te verdeel en te verkoop, anders sou dit onteien word. Hierdie reël is later ook gebruik om boere, wat meer as een bees per hektaar het, te beskuldig dat hulle die natuurlike grondstowwe misbruik deur die kwaliteit van die grond uit te put. Dit klink met die eerste oogopslag na idiosie, maar dit onthul presies hoe uitgeslape die politici in Venezuela is. Laasgenoemde reël is bitter wyd interpreteerbaar. Die regime kan dus kies wie hy wil teiken. So kan hulle, hulle politieke vyande straf en hulle ondersteuners vergoed.

Maar nou eers terug na wat ónder die vrugbare grond lê: In 2004 het oliepryse geweldig gestyg en Venezuela se ekonomie het die voordele daarvan begin geniet. Chavez het biljoene van die wins begin spandeer op welsynsprogramme. Dit het ingesluit ‘n gratis nasionale gesondheidsprogram (klink bekend), asook programme wat opvoeding bevorder het. Armoede het selfs met meer as 50% gedaal.

Die regering het privaat maatskappye begin oorneem van “bose kapitaliste” (Chavez se woorde). Hy het groot multinasionale olie en gas maatskappye se kontrakte op TV begin opskeur en gedreig dat, as hulle nie méér tantieme betaal nie, hulle uit die land moet padgee… en die maatskappye het padgegee. Deur publisiteit foefies soos hierdie (en natuurlik die welsynsprogramme) het hy groot steun gewen. Selfs Hollywood idiote soos Sean Penn en Danny Glover het hulle steun aan Chaves betuig. Slimmer mense as akteurs (as so iets bestaan) het egter die gevaarligte sien flikker. In 2013 sterf Chaves en word vervang deur sy visie-president Nicolas Maduro.

In 2014 val die olieprys soos ‘n bottel brandewyn van die tafel en omdat Chaves geen pogings aangewend het om Venezuela se afhanklikheid op olie te verminder nie, was daar skielik geen geld om die welsynsprogramme te subsidieer nie. Drie jaar later het dinge nog nie verbeter nie. OPEC het in Mei 2018 ‘n ondersoek geloods na die val in Venezuela se olie produksie wat tot 1.5 miljoen vaatjies per dag gedaal het. Dis amper 500,000 vpd laer as OPEC se produksieteikens. Kenners glo hierdie daling is vanweë ‘n verslegtende infrastruktuur.

Sedert 2014 verlaat ongeveer 2,000,000 mense Venezuela. Onder die wat vlug is natuurlik ‘n groot hoeveelheid hoogs geskoolde persone – ‘n reuse brein drein uit die land. As gevolg van mislukte programme wat deur Chaves geïmplementeer is of deur Maduro verder gedryf is, verloor 75% van Venezuela se volwassenes in 2016 ‘n gemiddeld van 8.6kg se liggaamsmassa omdat daar voedseltekorte oral is. Hierdie gewigsverlies word baie morbied in Venezuela die “Maduro dieet” genoem. Daarteen geniet Maduro se weermag en politieke bondgenote natuurlik reuse finansiële voordele, in ruil vir “wettige” geweld en onderduimshede wat hom aan bewind hou.

Maduro sê gereeld dat hy ‘n stryd voer teen “imperialistiese komplotte” (klink weereens bekend) om sosialisme te vernietig en Venezuela se oliereserwes te steel. Die waarheid is egter dat hy ‘n fraksie van die bevolking se steun geniet. Skaars 4 dae terug was hy amper die slagoffer van ‘n hommeltuig sluipmoord aanval. ‘n Organisasie met die naam “National Movement of Soldiers” het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar en sê dat hulle al Venezuela se weerstandsbewegings wil verenig teen die huidige regime.

Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel dat Venezuela se inflasie teen die einde van 2018, een miljoen persent sal wees en dat die ekonomie met 18% sal krimp. Die tempo van prysverhogings in Venezuela is reeds vergelykbaar met die Weimar republiek in 1923 en Zimbabwe aan die einde van 2000. Die IMF voorspel ook dat die BBP tot $10,000 per capita sal daal.

Sien, die probleem is dat Sosialisme en sy boetie “grondhervorming” amper altyd in die begin werk. Maar nie vir lank nie. Sodra ‘n gesonde mens na die staat begin kyk vir sy volgende salaris, is dit baie moeilik om daardie persoon weer van sy gat af op te kry, sodat hy aan die ekonomie kan deelneem. As die staat boonop verniet eiendom aan hom toedeel, glo ek die probleem gaan veel erger wees. Dis soos ‘n leeu wat jy hans in die huis grootmaak. Daardie leeu sal nooit weer iets vir homself wil doen nie – ‘n middagslapie is lekkerder.

james@klankkoerant.co.za